Ons Storie

In 1998 het sewentien Bonsmara telers uit die Vryburg-omgewing 51 bulle ingeskryf vir ‘n toets op die veld. Van die staanspoor was dit duidelik dat die veldtoets nie vra wie die teler is nie – as ‘n bul nie beskik het oor gehardheid en aangepastheid nie, het hy nie die paal gehaal nie. Die getal telers wat bulle ingeskryf het vir die toets het drasties afgeneem – iets waarvoor ‘n mens begrip het: Bulle wat andersins moontlik veilings sou haal, moes geslag word.

Vier bittereinders het egter die moed van hulle oortuiging gehad en het deurgedruk! Hulle was die stigters van die Proveld Bonsmara Groep. Oor die ongeveer 25 jaar van die groep se bestaan het ander telers wat die stigterslede se visie deel by die groep aangesluit en ook verlaat tot waar die lede tans weer bestaan uit vier stoetlede. Deesdae word ongeveer 80 Bonsmara bulle per jaar by Proveld getoets waarvan ongeveer 35% nie die mas opkom in die strawwe toets nie. Diè wat wel die toets slaag, word aangebied op Proveld se veilings wat jaarliks plaasvind op die tweede Woensdag van Februarie en Junie.

Waar daar op die eerste veldbulveiling in 1999 12 bulle verkoop was, verkoop Proveld die afgelope aantal jare ongeveer 60 bulle per jaar.

Enkele faktore wat 'n Proveld bul onderskei:

  • Elk van die lede van die groep selekteer bulle wat belofte toon vir inskrywing in die veldbultoets. Uitgesoekte bulle word gevolglik teen mekaar getoets
  • Bulle loop saam in een groep op die toetsplaas.
  • Bulle word onder dieselfde toestande getoets as waaronder vroulike diere op die veld moet presteer.
  • Bulle moet hulself op die veld bewys met slegs ‘n aanvulling.
  • Bulle word op die veld voorberei vir veilings en is gevolglik op die dag van die veiling fiks en gereed om te werk.
  • Geen vet neerlegging vind plaas in skrotumnek nie.
  • Die grootte van die groepe wat teen mekaar getoets word, verseker dat die uitslag daarvan mèèr gewig dra as byvoorbeeld ‘n toets waarin slegs tien bulle teen mekaar getoets word.
  • ‘n Groot verskeidenheid vaars se seuns word teen mekaar getoets.
  • Lede het die geleentheid om bulle wat uitsonderlik presteer vir ‘n seisoen of twee te gebruik voordat hul te koop aangebied word. Kopers kry die geleentheid om hierdie “Vlagskip” bulle en van hulle nageslag te bekom en om daardeur die gene wat gehardheid en aangepastheid verseker in hul eie kuddes te vestig.

Wanneer dit dus kom by die koop van ‘n bul, koop ‘n bul wat vir homself op die veld kan sorg en … 
WEN OP DIE VELD!

Die Bonsmara Tradisie

Bonsmara geskiedenis oorsig

Bonsmara het sy ontstaan by die Mara en Messina navorsingstasies tussen 1937 en 1963 gehad, onder die wakende oog van Prof Jan Bonsma. Bonsmara het spoedig wêreldbekende status geniet as die enigste vleisras ter wêreld, wat deur ’n volledige gedokumenteerde kruisteelprogram ontwikkel is ─ met behulp van objektiewe aantekening van prestasiedata. Visuele evaluasie volgens die norme vir funksionele doeltreffendheid is vanaf die begin geïmplementeer, en word steeds streng toegepas.

Die naam is afgelei uit Prof Bonsma se van (Bonsma) en die naam van die Mara navorsingstasie (Mara), waar die eerste kruisteel kalf gebore is. Prof Bonsma en sy kollegas het voortdurend intensiewe kruisteelproewe geloods in byna 20 kommersiële stoete in verskillende dele van Suid-Afrika, om uiteindelik die bes presterende kruisteelproef van 5/8 Afrikaner en 3/8 Eksotiese Hereford/Korthoring, te vind.

 

Foto:Prof Jan Bonsma.

Ontstaan van Bonsmara S.A. genootskap

Dit het gelei tot die vorming van die Bonsmara SA Beestelersgenootskap in 1964. Bonsmara is wyd versprei oor die hele Suid-Afrika en ander Afrikalande wat spoedig Bonsmara aanvaar het, sluit; Namibië, Uganda en Zambië in. Die internasionale vleisbeesnywerhede van Argentinië, Australië, Brasilië, Paraguay, Colombia, die VSA en Uruguay het hierna spoedig gevolg.

Proveld tot die toets

In 1998 het sewentien Bonsmara telers uit die Vryburg-omgewing 51 bulle ingeskryf vir ‘n toets op die veld. Van die staanspoor was dit duidelik dat die veldtoets nie vra wie die teler is nie – as ‘n bul nie beskik het oor gehardheid en aangepastheid nie, het hy nie die paal gehaal nie. Die getal telers wat bulle ingeskryf het vir die toets het drasties afgeneem – iets waarvoor ‘n mens begrip het: Bulle wat andersins moontlik veilings sou haal, moes geslag word.

Vier bittereinders het egter die moed van hulle oortuiging gehad en het deurgedruk! Hulle was die stigters van die Proveld Bonsmara Groep.

Proveld se eerste veiling

Waar daar op die eerste veldbulveiling in 1999 12 bulle verkoop was, het Proveld tydens hul 2007 Oktober-veiling 50 bulle aangebied en ‘n 100% verkoopsyfer behaal.

'n Blink toekoms!

Oor die ongeveer 24 jaar van die groep se bestaan het ander telers wat die stigterslede se visie deel by die groep aangesluit tot waar die lede tans bestaan uit vyf stoetlede. Dertien kommersiële telers het ook by die groep geafilieër as kommersiële lede daarvan. Deesdae word ongeveer 250 Bonsmara bulle per jaar by Proveld getoets waarvan ongeveer 35% geslag word omdat hulle nie die mas opkom in die strawwe toets nie. Diè wat wel die toets slaag, word aangebied op Proveld se veilings wat jaarliks plaasvind op die tweede Woensdag van Februarie en Junie en die voorlaaste Woensdag van Oktober.